Onderhoud oor Pretoria-PEN op LitNet 9 Desember 2011

Naomi Meyer het met Dan Roodt, president van Pretoria-PEN, gesels.

Dan Roodt
Dan Roodt

Wat is jou betrokkenheid by Pretoria-PEN, nou en in die verlede?

Ek was van die begin af betrokke. Trouens, die gedagte om ’n PEN-sentrum vir Afrikaanse skrywers te stig was my idee. Ek was ook die eerste president van Pretoria-PEN. Tydens ’n buitengewone algemene vergadering op 18 November vanjaar is ek as president herkies. Tans is ons besig om ’n jaarvergadering op 20 en 21 Januarie 2012 te organiseer wat deur ’n bekende skryfster uit Nederland geopen sal word.

Op Pretoria-PEN se webwerf staan daar dat die organisasie verbind is tot die bevordering van letterkunde, spraakvryheid en taalregte. Wie het hierdie doelstellings geskryf? Wat beteken dit vir jou?

Ek het oorspronklik daardie doelstellings geskryf en dit het algemeen byval gevind. Intussen het ons ietwat meer breedvoerige doelstellings bygekry, as deel van ons hersiene grondwet, wat op ons splinternuwe webwerf te vinde is. Maar in breë trekke stem daardie drie oorspronklike doelstellings ooreen met dié van PEN Internasionaal.

As ons praat van die bevordering van letterkunde, dan gaan dit juis daarom om skrywers– en uitgewersbelange te bevorder, maar ook om die breë publiek in te lig en ’n smaak vir letterkunde in ons land te kweek.

Onder spraakvryheid verstaan ons elkeen se reg om homself uit te druk soos hy wil, met dien verstande dat daar nie haatspraak of oproepe tot geweld behoort plaas te vind nie. Soms skryf of sê skrywers dinge wat ander afstootlik vind, maar spraakvryheid beteken juis dat ’n mens andersoortige menings of standpunte of beskrywings moet verdra.

Oor die afgelope dekade of langer is die meeste Afrikaanse skrywers en intellektuele begaan oor die agteruitgang van Afrikaans en die vertrapping van ons taalregte deur die owerheid en deur die privaat sektor. Maar ook PEN Internasionaal beskik oor ’n vertaling- en taalregtekomitee wat taalregte bevorder en ons sou wou sien dat Suid-Afrika afsien van sy koloniale “slegs Engels”-houding en kennis neem van die ontwikkeling van taalregte oor die afgelope twintig of dertig jaar.

Daar bestaan reeds ’n PEN South Africa-organisasie. Wat is dan die relevansie of nodigheid van ’n Pretoria-PEN-organisasie, en is dit slegs vir Afrikaanse skrywers?

Dis korrek, ja. Maar PEN South Africa is feitlik uitsluitlik ’n Engelstalige organisasie. Die voertaal is Engels en die fokus is op Engelse letterkunde. In die meeste tweetalige lande soos Kanada of België bestaan daar meer as een PEN om vir die verskillende tale voorsiening te maak. Streng gesproke is Pretoria-PEN nie uitsluitlik vir Afrikaanse skrywers nie, maar ons voertaal is Afrikaans en daarom sal diegene wat Engels verkies, seker eerder by South African PEN aansluit. In die toekoms mag daar skrywers van ander inheemse tale by ons aansluit, maar ons grondwet maak voorsiening vir tolk – en vertaaldienste indien dit ooit ’n beduidende omvang sou bereik. In die praktyk voorsien ons egter dat Pretoria-PEN se fokus Afrikaans sal bly, net soos wat South African PEN se fokus Engels sal bly. Trouens, ons beskik oor baie goeie verhoudinge met South African PEN en waarskynlik sal ons op sekere gebiede in die toekoms saamwerk.

Het PEN Internasionaal ’n grondwet waarin bepaal word hoeveel mense by ’n vergadering teenwoordig moet wees ten einde ’n voorsitter te kies? Hoe werk dit by Pretoria-PEN wanneer ’n nuwe voorsitter gekies word?

PEN Internasionaal beskik oor sy eie grondwet, ja. Maar elke PEN-sentrum ter wêreld verteenwoordig ’n outonome vereniging met sy eie grondwet en prosedures. Die grondwet van Pretoria-PEN bepaal dat daar minstens vyf mense by ’n algemene vergadering teenwoordig moet wees. Die verkiesing van ’n voorsitter of president geskied by wyse van ’n vooraf nominasie en daarna is elke lid geregtig om sy stem uit te bring, ook dié wat nie die vergadering kan bywoon nie en ’n volmag aan ander lede kan gee wat wel in staat is om die vergadering by te woon. In die praktyk neem die meeste lede dus sodoende aan die demokratiese proses deel.

Dis ook baie maklik om van die president of enige ander bestuurslid ontslae te raak, deur ’n gewone meerderheidsbesluit by ’n algemene vergadering. Selfs ’n klein groepie lede kan te eniger tyd ’n buitengewone algemene vergadering aanvra. Eintlik is dit baie makliker vir die lede om van die voorsitter ontslae te raak as wat dit is om ’n lid wat al die reëls oortree te skors! ’n Lid wat die organisasie ondergrawe of sy doelstellings dwarsboom, moet eers ’n tugprosedure ondergaan. Indien hy skuldig bevind word, kan hy ook na die algemene vergadering appelleer, dus is ons grondwet baie demokraties en regverdig.

Wat is die kriteria om aan Pretoria-PEN te behoort?

’n Persoon kwalifiseer vir gewone lidmaatskap van die vereniging indien hy ’n skrywer, redakteur, vertaler, essayis of joernaalskrywer is wat op grond van literêre meriete of sy oeuvre in aanmerking kom en wat hom neerlê by die vereniging se doelstellings, waarby inbegrepe is die handves van PEN Internasionaal. Daar word ook voorsiening gemaak vir assosiaatlede wat nie noodwendig aktiewe skrywers hoef te wees nie, maar bloot die doelstellings moet ondersteun. Assosiaatlede mag egter nie op algemene vergaderings stem nie.

Enigiemand wat belangstel om lid van Pretoria-PEN te word, kan ’n lid van die bestuur kontak by ons e-pos-adresse wat op www.pretoriapen.co.za verskyn.

Waarna streef jy as skrywer, onafhanklik van enige organisasie?

Ek streef daarna om die eienaardige werklikheid van hierdie eienaardige land in my boeke en geskrifte weer te gee, hetsy deur fiksie, hetsy deur niefiksie. Afrikaans was egter dwarsdeur sy geskiedenis ook ’n taal wat as instrument van bevryding vir die Afrikaner gedien het, juis omdat ons so lank onder vreemde oorheersing vanuit Brittanje gestaan het. Tans weer word ons deur die Afro-Saksers oorheers vir wie Engels ’n magstaal en -instrument geword het waarmee ons kultuur en identiteit aangeval word. Deur Afrikaans kan ons onsself bevry en weer heel word nadat ons as’t ware op die wiel van Engels gebreek is en in meer as een sin gebroke geraak het.

Op ’n meer persoonlike vlak is ek amper ’n skrywer sonder ’n oeuvre! Hoewel ek taamlik aktief op die internet en in koerante meningsartikels skryf, het ek tot dusver betreklik min romans of poësie gepubliseer. Vandaar my groot behoefte om iets van my wêreld met Afrikaanse lesers te deel. Ek voel in ’n sekere sin bevoorreg, omdat ek ’n baie goeie literêre opvoeding gehad het – op skool by Helpmekaar, asook later in Parys deur my ontmoetings met en ervaring van groot denkers en skrywers, tesame met my daaglikse gedrentel deur boekwinkels. Sommige mense sien die wêreld van die lettere as iets banaals of vanselfsprekends, maar toenemend vind ek dat daar werklik min goeie of interessante skrywers bestaan. As ek daarin kan slaag om myself af te sonder om nog ’n paar boeke of tekste in Afrikaans te produseer, sal dit vir my baie sinvol wees. Om te skryf is ’n synsaktiwiteit.

Ook wil ek een of ander tyd ’n lang filosofiese essay in Afrikaans skryf. Hopelik vind ek die tyd en die lus vir dit alles!

Hierdie onderhoud het oorspronklik op LitNet verskyn.

Swaab wen Nobelprys vir letterkunde

Herta Müller

Herta Müller

Die Nobelprys vir letterkunde is vanjaar aan die Roemeens gebore Duitse skryfster Herta Müller toegeken.

Müller is op 17 Augustus 1953 in ‘n Duitssprekende dorpie Nitzkydorf in die weste van Roemenië gebore as deel van ‘n Duitse minderheidsgroep wat bekend staan as die Swabe van Banat.

Sy het haar literêre debuut in 1982 gemaak met ‘n versameling kortverhale getiteld “Niederungen” wat (persoonlike) laagtepunt beteken.

Sy het in 1987 in Duitsland aangekom, nadat sy vrygekoop is vir 8 000 mark wat die Wes-Duitste regering aan die Roemeense diktator Ceausesco moes betaal.

Die pas verskene roman, Atemschaukel (In Engels: Everything I Possess I Carry With Me) word as hoogtepunt van haar lewenswerk beskou. Daarin beskryf sy die lyding van ‘n 17-jarige seun, wat as gevangene na ‘n strafkamp in die Oekraïne gedeporteer word.

In al haar werke beskryf sy die leed wat mense aangedoen word waar hulle deur die staat onderdruk word. Sy vertel van die noodlot van vlugtende families, ‘n lewe vol van verraad en verraaiers, asook vrees, wat uiteindelik geen ruimte laat om meer vrylik asem te haal nie, maar ook van die onverskilligheid van diegene wat hulself in hierdie omstandighede inleef deur met die regime saam te werk.

Sy het eerstehandse ervaring deurdat sy gereeld die teiken was van die Ceausescu-diktatuur in Roemenië. Nadat haar boeke verbied is, sy haar werk verloor het en aan aanhoudende huisdeursoekings onderwerp is, moes sy en haar man hul geboorteland noodgedwonge verlaat.

Sy word al lank as kandidaat vir die prys beskou en die permanente sekretaris van die Akademie, Peter Englund, het haar geloof as ‘n woordkunstenaar wat fantastiese taalgebruik met die uiterste akkuraatheid kombineer.

Die toekenning van die prys aan haar is ook ‘n bekentenis dat kuns en etiek twee kante van dieselfde medalje is.  Dit verleen verder ook erkenning aan die diaspora-kultuur van die Banatse Swabe en hul grootste skryfster.

Herta Müller word die 12de vrou wat die gesogte literatuurprys wen, wat in 2007 aan Doris Lessing van die Verenigde Koningkryk toegeken is en verlede jaar deur J.M.G. Le Clézio van Frankryk verower is.

– Igmar Rautenbach