Pretoria-PEN bring hulde aan George Weideman

George Weideman

George Weideman

George Weideman is vanoggend om 03:30 in die ouderdom van 61 jaar in die Louis Leipoldt-hospitaal in Bellville oorlede. Weideman was die skrywer van sewe digbundels, twee romans, vier bundels kortverhale, sewe jeugboeke, asook verhoogdramas waarvan net een gepubliseer is en drie ongepubliseerde radiodramas.

Die skrywersorganisasie Pretoria-PEN het in sy reaksie op die afsterwe van George Weideman sy spyt en intense hartseer uitgespreek. “Sowel die Afrikanervolk as die Afrikaanse skrywersgemeenskap verloor in George ‘n talentvolle mens en sprankelende skrywer. Nie net was Weideman met sy digbundels en toneelstukke ‘n unieke stem in die Afrikaanse letterkunde nie, maar hy het veral met sy grootse pikareske roman Draaijakkals ‘n taamlik onlangse hoogtepunt in ons prosa gelewer,” het die president van Pretoria-PEN, dr. Dan Roodt, gesê.

Weideman was ‘n innemende en geesdriftige mens wat by almal geliefd was. Hy was boonop iemand wat hom in die Afrikaanse taal verkneukel het en tot vindingryke woordspel en gevatte uitdrukkings in staat was.

Onderliggend aan die meeste van sy werk is ‘n toon van ironie en spot. Draaijakkals kan met die klassieke werke van Cervantes of Laurence Sterne vergelyk word en sal iewers in die toekoms nog hoër deur ons kritici aangeslaan word as wat dit reeds is.

“George Weideman was ‘n stigterslid van Pretoria-PEN net enkele jare gelede. As skrywersgroepering wil ons ons medelye met George Weideman se naasbestaandes uitspreek en hulle verseker dat hulle verlies ook ons verlies is. Weideman verdien ons almal se hulde vir die groot mens en groot kunstenaar wat hy was,” het Roodt voortgegaan.