Splinternuwe webwerf vir Pretoria-PEN

Geagte lid van Pretoria-PEN,

Nuwe webwerf

Soos u kan sien, het ons ‘n splinternuwe webwerf vir Pretoria-PEN laat opstel, waarna die vorige inhoud oorgedra is. Soos Martiens van Bart voorgestel het, is daar ook ruimte vir resensies en algemene nuus oor boeke en letterkunde geskep. Enkele resensies is reeds aangebring, maar ons wil u uitnooi om vir ons nog resensies te stuur, oor u eie boeke of oor ander wat u dalk gerenseeer het. Nuwe resensies sal natuurlik by uitstek welkom wees. Die webwerf sal bygewerk word met allerlei tersaaklike inligting en daarop sal u ook ‘n volledige rekord van ons mediaverklarings, jaarvergaderings en dergelike vind.

Die webwerf bevat ook ‘n forum, genaamd Pennevrugte. Hierop kan enigeen na hartelus deelneem aan ‘n gesprek oor boeke, letterkunde en alles wat daarmee saamhang. Al wat u hoef te doen, is om onder op “Log in” te klik, op die WordPress-stelsel te registreer en daarna kan u deelneem, asook u eie onderwerpe vir bespreking skep.

Binnekort sal die webwerf ook skakel met Facebook, Twitter en ander sosiale media sodat die werksaamhede van ons vereniging wyd en syd gekommunikeer kan word.

Kompliment van Cathal Sheerin van PEN-hoofkantoor

N.a.v. my verklaring oor die Wet op inligtingsbeheer, het Cathal Sheerin van die PEN-hoofkantoor só gereageer:

2011/11/28 Cathal Sheerin <Cathal.Sheerin@pen-international.org>

Dear Dan,

Many thanks for this great statement.

Best Regards,

Cathal Sheerin

Nederlandse gasspreker vir jaarvergaderingdinee

Intussen is ons besig om met die Nederlandse skryfster te korrespondeer wat ons op 20 Januarie sal kom toespreek tydens die openingsdinee van ons algemene jaarvergadering. Sy is baie geesdriftig om te kom en wil sommer van die geleentheid gebruik maak om Suid-Afrika beter te leer ken. Sodra die onderwerp van haar toespraak gefinaliseer is, sal ons by wyse van ‘n mediaverklaring haar naam bekendmaak.

Die aand van 20 Januarie beloof om baie interessant te wees en hopelik net die begin van veel meer wisselwerking tussen ons en Nederlandse skrywers, asook natuurlik PEN Nederland.

Klik sommer nou hier om die nuwe webwerf te besoek!

Met vriendelike groete,

Dan Roodt

President, Pretoria-PEN