André P. Brink se stellings oor geweldsmisdaad

MEDIAVERKLARING UITGEREIK DEUR PRETORIA-PEN N.A.V. ANDRÉ P. BRINK SE UITSPRAAK OOR GEWELDSMISDAAD

(English translation to follow)

Die Pretoria-PEN wil André P. Brink gelukwens met die uitgesproke standpunt teen geweldsmisdaad wat hy in die Franse koerant Le Monde gepubliseer het. Ongebreidelde geweld is ‘n element wat elke Suid-Afrikaner (ook skrywers) raak en kan nie langer geduld word nie.

Ons het reeds die Skrywers-in- aanhoudingkomite e van Internasionale PEN in kennis gestel van die gevaar waarin skrywers, vertalers en oernaliste in Suid-Afrika verkeer, met spesifieke verwysing na die moorde op prof. Lisbé Smuts-Smith en mnr. Louw Rabie, broer van Jan Rabie, asook ‘n skryfster van Prins Albert wat ‘n tyd gelede verkrag is maar waarvan die naam nie bekendgemaak is nie.

PEN is die oudste internasionale skrywersorganisasie wat wêreldwyd ongeveer 15 000 skrywers, vertalers en senior joernaliste verteenwoordig.

André P. Brink is heeltemal korrek as hy die Suid-Afrikaanse regering van “manipulasie van statistieke” beskuldig. Elke Suid-Afrikaner ken vriende of familie wat reeds deur die misdadige moordbendes vermoor is. Vyftig mense sterf elke dag weens misdaad in Suid-Afrika, meer as wat in die Irak-oorlog omkom. Die anargie wat in ons land heers, druis in teen alle beskaafde norme.

Die Pretoria-PEN is dit ook eens met André P. Brink as hy sê: “Om in ons jong demokrasie stil te bly, is die beste manier om die tragiese einde van daardie demokrasie te veroorsaak.”

By gebrek aan ‘n doeltreffende parlementêre opposisie, rus daar ‘n sware
taak op die skouers van skrywers en intellektuele om demokratiese
waardes soos spraakvryheid en die reg op lewe van verval te red. Ons
doen daarom ‘n beroep op skrywers van alle tale in Suid-Afrika, maar
veral Afrikaanse skrywers wie se familie en uitgebreide familie op plase
tans onder die gruwelikste omstandighede denkbaar doodgemartel en
uitgemoor word, om saam te staan teen geweld.

Ons leef onder ‘n gevoellose regering wat André P. Brink tereg as
“monsters” tipeer. Lewensverlies skeel hulle minder as die prestige van
die 2010-Wêreldsokkerbek er, oorsese reise en die vele partytjies wat met
sibaritiese luister aangebied word.

Ons leef in ‘n tydvak van Neroniese dekadensie in Suid-Afrika. Volgens
die pers het een ANC-amptenaar R96000 op ‘n middagete in ‘n duur
restaurant uitgegee.

Deur die geskiedenis het skrywers en digters meer Stoïsyns reg en
geregtigheid, asook die waarde van ‘n menselewe, verdedig. Nou meer as
ooit het ons nodig dat skrywers in hul edel stryd teen wreedheid en
geweld behoort te verenig.

Dan Roodt
President, Pretoria-PEN
kopié aan Internasionale PEN, Londen