‘n Zombie van die Nuwe Suid-Afrika

deur Dan Roodt

Ek het so pas Fransi Phillips se roman, Net ‘n lewe, wat verlede jaar die eerste prys in Lapa se romankompetisie gewen het, op een slag klaar gelees. Op die eerste bladsy word die hoofkarakter in ‘n “relatief ordentlike moord” vermoor:

“Dit was ‘n relatief ordentlike moord, gemeet aan Suid-Afrikaanse standaarde. Haar lang, skraal vingers, wat vir my haar beste bate was, is nie afgesny nie en haar gesig is nie vermink nie. Net drie skoon skote deur haar hart.”

Die res van die boek bestaan uit ‘n vertroulike dagboek – die Franse het ‘n mooi woord daarvoor, ‘n journal intime – wat sy gehou het, asook enkele inleidende opmerkings deur haar vriendin, Heleen. In haar testament het sy die dagboek “om een of ander duister rede” aan Heleen, wat reeds in Australië woon, bemaak.

In die kort gedeelte oor “Die erflating”, vertel Heleen:

“Die laaste keer toe ek haar uit Australië gebel het, het sy my vertel dat sy nou net so bang is vir die polisie as die kriminele, omdat ‘n mens nie meer tussen die twee groepe kan onderskei nie. ‘Die polisie verhuur deesdae hulle uniforms aan die kriminele,’ het sy geskreeu van die lag.

My humorsin was nie heeltemal robuust genoeg om dit te akkomodeer nie. ‘Jy moet wegkom,’ het ek geroep. ‘Wat doen jy nog in daardie land?’

‘My lewe is net ‘n lewe,’ het sy gesug.

‘Die lewe is die kosbaarste ding wat bestaan!’

Sy was skielik somber. ‘En ook die nietigste.'”

Só, sommer met die intrapslag, plaas Phillips ons vierkant in die eksistensieel-politieke vraagstuk van die Nuwe Suid-Afrika: om te emigreer, of om te oorleef in een van die gewelddadigste lande op aarde waar anargie op soveel gebiede reeds heers.

Telkens in die boek verwys die reeds ontslape vertelster na haar “dooie taal, Afrikaans” waarin sy teen wil en dank aanhou skryf. Phillips se toon is voortdurend ironies, aweregs, plek-plek selfs kru.

Die blote feit dat hierdie teks met sy gestroopte styl en ontnugterde blik op ons land ‘n romanprys in die huidige Suid-Afrika kon wen, spreek vir my al boekdele, by wyse van spreke. Baie lank is die Afrikaanse letterkunde, ook vanweë die kulturele manipulasie van die Nasperskoerante, deur figure soos Antjie Krog en André P. Brink oorheers wat uit wit skuld en die stereotipering van hul eie mense vir ‘n buitelandse of Engelse gehoor kuns probeer maak het. Nou kom Phillips en toon aan ons ‘n wêreld soortgelyk aan dié wat ons elke dag beleef, waarin menselewens deur geweld verwoes word of waar witmense nie meer geredelik werk kan kry nie.

Om Net ‘n lewe as “polities onkorrek” te beskryf, laat egter nie reg geskied aan die veelkantigheid van Phillips se perspektief op ons tragedie nie. Want die tragedie van die “relatief ordentlike moord” wat die heldin se lewe kortknip, is ook metafoor vir ons almal se lewens wat op soveel maniere deur ‘n onhoudbare maatskaplike toestand geraak word.

Wat die boek verder interessant maak, is hoe ons die onlangse geskiedenis van Suid-Afrika en van die Afrikaner deur die oë van die vermoorde ervaar. Sy is ‘n skryfster wat huweliksprobleme opdoen, teen haar man se wil in die filosofie en Afrikaanse letterkunde belangstel, asook uiteindelik sukkel om werk te kry. Sekere politieke of geskiedkundige gebeure word hier en daar aangestip. Daar is egter ook ‘n sterk elment van outobiografie, met die vermenging van feit en fiksie. Bekende Afrikaanse skrywers en digters, asook politici en akademici, maak op verskeie plekke in die roman ‘n buiging.

Deur hierdie persoonlike geskiedenis, wat plek-plek ‘n lydingsweg word, word die treurige verhaal van die Afrikaner se afgang ook vertel. Dit betrek veral die verhouding tussen skrywers of kunstenaars en die volk, daardie verhouding wat sedert die sestigerjare en die rusie tussen Verwoerd en Van Wyk Louw oor Die pluimsaad waai ver so problematies geword het. Tydens haar studentedae by Tukkies is die heldin deel van ‘n linkse avant-garde-groep. Op bladsy 97 verwoord sy die naïwiteit van die destydse jeug en haar geloof in die mag van kreatiwiteit:

“Party mense dink seker dis cute wanneer ek my volk uitkak in die liberale kampuskoerant. Maar die enigste ding waarin ek regtig glo, is kreatiwiteit. As die ANC aan bewind kom, sal ek vir hulle my staatsfilosofie-taak stuur oor die grondwet wat gebaseer is op kreatiewe vryheid. Ja sure, hulle sal dit dadelik implementeer en dan is die land se probleme opgelos.”

In hierdie sardoniese paragraaf beskryf Phillips eintlik die onnoselheid en wêreldvreemdheid van ‘n hele geslag Afrikaanse skrywers, ons geslag, wat wou “oulik” wees en in die proses as bruikbare idiote tot die magsoorname van hierdie eienaardige, argaïese en kwasikommunistiese bewind bygedra het. Ook in ander passasies kan ons Net ‘n lewe lees as ‘n vorm van literêre en ideologiese selfkritiek.

En dit is iets wat vir my gesond en nódig is. Ek weet nie wie dit gesê het nie, maar ‘n klein kultuur kan nie bekostig om verdeeld te wees nie. Groot lande en nasies kan binne hul grondgebied revolusies of langdurige verdeeldheid tussen Katoliek en Protestant, Links en Regs, oorleef. Maar soos ons onlangse geskiedenis aangetoon het, lei verdeeldheid in eie geledere tussen skrywers en politici, of die versplintering in wedywerende partye en organisasies op die duur tot ‘n soort selfvolksmoord waarvan ons vandag vele van die meer makabere manifestasies beleef.

Iewers beskryf die hoofkarakter haarself insgelyks as “‘n kleptomaniese spook” wat poog om haar lewe van ander kant die graf “terug te steel”. Sy is met ander woorde ‘n soort lewende dooie, ‘n zombie – daardie populêre term vanuit die Negertoorkuns van die eiland Haïti – wat boonop in ‘n “dooie taal”, Afrikaans, skryf.

Maar soos Lazarus uit die dode opgestaan het en soos Afrikaans in die negentiende eeu begin herleef het nadat selfs die NG Kerk volkome verengels is, wéét ons dat Phillips se slagoffer van ‘n “ordentlike moord”, ten minste op skrif, nie heeltemal dood is nie, want sy spook steeds op ‘n skerpsinnige en indringende wyse by ons. Sy is (was) ‘n Afrikanervrou uit die tussenin-wêreld vóór die revolusie, daardie “interregnum” waarvan die Italiaanse kommunis Gramsci gepraat het en wat Nadine Gordimer in haar gewone bewondering vir alles wat Marxisties is as motto by haar novelle July’s People aangehaal het:

“The old is dying and the new cannot be be born; in this interregnum there arises a great diversity of morbid symptoms.”

Maar die heldin van Net ‘n lewe sweer by die God van Kreatiwiteit, iets wat telkens in die boek herhaal word. Uiteindelik, dink ek, wil Phillips vir ons sê dat die skeppingsdaad en selfs letterkunde die potensiaal van bevryding inhou.

In Suid-Afrika is “bevryding” reeds ‘n geykte en verdagte woord, veral besmet deur sy gebruik deur die ANC en SAKP as ‘n “bevrydingsbeweging”. Hoewel Phillips ‘n onthutsende blik op ons sosiopolitieke werklikheid bied, sou ek nie haar boek as “betrokke literatuur” wou beskryf nie, omdat daardie begrip ewe seer besmet is deur sy betekenis van “in ‘n verhouding tot die party te staan”. Soos soveel kommunistiese skrywers van die twintigste eeu wat hul naam en hul kuns aan ‘n politieke party, veral die Kommunistiese Party, vasgeketting het, het ‘n hele geslag plaaslike skrywers hulself as werktuie vir die ANC aangebied. Tot my stomme verbasing het André P. Brink nog onlangs in die Londense Financial Times sy matelose bewondering vir Oliver Tambo as iemand met “morele krag en filosofiese diepte” bely.

Sonder die ANC sou André P. Brink – of Nadine Gordimer en soveel ander – nie oor ‘n identiteit beskik het nie. Fransi Phillips staan in haar nogal postmoderne taalgebruik en lewensbeskouing ver verwyder van die tradisionele Afrikaanse letterkunde van, sê maar, die Dertigers. Tog sluit haar wonderlike vars boek met sy ironiese ontluistering van ‘n hele klomp van Mandela se heilige koeie al bulkend doer uit Qunu aan by die totale voorafgaande tradisie, as ‘n uitdrukking van ‘n bepaalde, inheemse Afrikaneridentiteit. Om Afrikaner te wees, is nie net om Die Stem te sing of om braaivleis, rugby en ander dinge te geniet nie, maar ook om soos die protagonis van Net ‘n lewe verknog te wees aan Marc Chagall of Paul Klee, of om klassieke musiek, kunsgeskiedenis of Westerse filosofie te waardeer.

By al die identiteitsvernietigende hoon wat daar vanuit die Kaapse enklawe en sy magtige media vandag teenoor die Afrikaner uitgegiet word, bespeur ‘n mens tog die herstel, die heling wat ‘n boek soos Net ‘n lewe bied. Dis sekerlik gebroke, elegies en geskied in ‘n mineurtoon. Dis kamermusiek – teenoor die bombasme, die Triomf (die Stellenbosser Marlene van Niekerk se links-fascistiese werk) wat soos rap-musiek vanuit ‘n uitspattige motor in een van ons vervalle middestede dawer.

Ons lewens – en ons kuns – is so nietig in ‘n filistynse land wat om twee ander K’s draai: korrupsie en konsumpsie. Nietemin is die uitsig wat Fransi Philips vir ons bied op ‘n nuwe soort letterkunde, anderkant wit skuld en politieke clichés, so opwindend dat ‘n mens nie anders kan as om te dink dat boeke en woorde dalk tog, soos Van Wyk Louw se “beiteltjie”, klippe en rotse en lande en selfs die aardbol middeldeur kan kloof nie.

Ons lewens – en ons kuns – is so nietig in ‘n filistynse land wat om twee ander K’s draai: korrupsie en konsumpsie. Nietemin is die uitsig wat Fransi Philips vir ons bied op ‘n nuwe soort letterkunde, anderkant wit skuld en politieke clichés, so opwindend dat ‘n mens nie anders kan as om te dink dat boeke en woorde dalk tog, soos Van Wyk Louw se “beiteltjie”, klippe en rotse en lande en selfs die aardbol middeldeur kan kloof nie.

Fransi Philips. Net ‘n lewe. Lapa-uitgewers, Pretoria, 2011. ISBN 978-0-7993-5160-6. Prys: R170.

Boerejode in die ABO

David Saks

David Saks

Die gemiddelde man op straat is waarskynlik nie bewus daarvan dat meer as 300 Jode aan Boerekant in die Anglo-Boereoorlog vir die vryheid van die Boererepublieke (Transvaal en die Vrystaat) geveg het nie. In hierdie verband het David Saks, navorser by die Joodse Raad van Afgevaardigdes, so pas sy nuwe boek, Boerejode – Jews in the Boer Armed Forces (1899-1902), by ‘n byeenkoms in die Sinagoge in Johannesburg vrygestel.

Volgens Saks volg hy, wat sy navorsing betref, in die voetspore van hoofrabbi (professor) Louis Rabinowitz, wat in die jare 1940 tot ’50 die rol van die Boerejode gedokumenteer het. Rabinowitz was veral beïndruk met die feit dat dr. DF Malan (eerste ministervan die Unie van SA, sedert 1948) die eerste staatshoof was wat erkennning aan die totstandkoming van die staat Israel gegee het. Hy was ook krities teen die Britse regering wat die daarstelling van die staat Israel tydens hulle bevrydingstryd teengestaan het.

Die Boeremagte se Longtom-kanonne is deur twee Joodse tegnici (Sam Leon en Leon Grunberg) nie net nagesien nie, maar was ook aan die hoof van twee werkswinkels vir die produksie van ammunisie. Die fabrieke was by Begbies Foundary en in die werkswinkels van die Nederlands/Zuid-Afrikaanse Spoorweë.

Sowat 300 Jode het aktief aan die oorlog meegedoen, wat – naas die Duitsers en Nederlanders – die derde grootste buitelandse komponent  in die Boeremagte verteenwoordig het.

Volgens Saks het die Boere wel uiteindelik teen die oormag van Engelse verloor, maar die oorlog bly vir die Boere se vryheidsideaal ‘n morele oorwinning. In die Boererepublieke was die verhouding tussen Boer en Jood warm en gesellig. Raakpunte is die rol van Israel in die Bybel en die Afrikaner se sin vir godsdiens.

Saks haal vir Jakkals Segall aan wat in 1943 verklaar het dat hy wat Saks is wel as immigrant hierheen gekom het, maar van oortuiging was dat hy sy man moet staan en as dit nodig sou wees, sy lewe vir die vryheidstrewe van die Boere moes gee. “Die outydse Afrikaners het geweet wat regverdigheid is. Hulle was die sout van die aarde.”

Naskrif

Die wedersydse samewerking tussen die SA Nasionale Intelligensiediens van generaal Hendrik van den Berg en die Mossad van Israel sal nog gedokumenteer moet word. Insgelyks is die nuwe SA beleid sedert 1994 uit en uit pro-Palestyns en anti-Joods. Daar moet ook opgeteken word dat beide apartheid en die Joodse Sionisme deur die VN as rassisties en ‘n sonde teen die mensdom gebrandmerk is.

– Christo Landman

Swaab wen Nobelprys vir letterkunde

Herta Müller

Herta Müller

Die Nobelprys vir letterkunde is vanjaar aan die Roemeens gebore Duitse skryfster Herta Müller toegeken.

Müller is op 17 Augustus 1953 in ‘n Duitssprekende dorpie Nitzkydorf in die weste van Roemenië gebore as deel van ‘n Duitse minderheidsgroep wat bekend staan as die Swabe van Banat.

Sy het haar literêre debuut in 1982 gemaak met ‘n versameling kortverhale getiteld “Niederungen” wat (persoonlike) laagtepunt beteken.

Sy het in 1987 in Duitsland aangekom, nadat sy vrygekoop is vir 8 000 mark wat die Wes-Duitste regering aan die Roemeense diktator Ceausesco moes betaal.

Die pas verskene roman, Atemschaukel (In Engels: Everything I Possess I Carry With Me) word as hoogtepunt van haar lewenswerk beskou. Daarin beskryf sy die lyding van ‘n 17-jarige seun, wat as gevangene na ‘n strafkamp in die Oekraïne gedeporteer word.

In al haar werke beskryf sy die leed wat mense aangedoen word waar hulle deur die staat onderdruk word. Sy vertel van die noodlot van vlugtende families, ‘n lewe vol van verraad en verraaiers, asook vrees, wat uiteindelik geen ruimte laat om meer vrylik asem te haal nie, maar ook van die onverskilligheid van diegene wat hulself in hierdie omstandighede inleef deur met die regime saam te werk.

Sy het eerstehandse ervaring deurdat sy gereeld die teiken was van die Ceausescu-diktatuur in Roemenië. Nadat haar boeke verbied is, sy haar werk verloor het en aan aanhoudende huisdeursoekings onderwerp is, moes sy en haar man hul geboorteland noodgedwonge verlaat.

Sy word al lank as kandidaat vir die prys beskou en die permanente sekretaris van die Akademie, Peter Englund, het haar geloof as ‘n woordkunstenaar wat fantastiese taalgebruik met die uiterste akkuraatheid kombineer.

Die toekenning van die prys aan haar is ook ‘n bekentenis dat kuns en etiek twee kante van dieselfde medalje is.  Dit verleen verder ook erkenning aan die diaspora-kultuur van die Banatse Swabe en hul grootste skryfster.

Herta Müller word die 12de vrou wat die gesogte literatuurprys wen, wat in 2007 aan Doris Lessing van die Verenigde Koningkryk toegeken is en verlede jaar deur J.M.G. Le Clézio van Frankryk verower is.

– Igmar Rautenbach